Wanneer die FBI agente in Amerika tellers in die banke wys hoe om vervalste note te onderskei, word regte note sowel as vervalste note aan hulle getoon. Om ’n vervalste noot te ontdek, moet na die verskille tussen die regte en vervalste note gekyk word en nie na die ooreenkomste nie. In 1 Johannes 2 beskerm die apostel Johannes gelowiges teen misleiding en bygeloof deur te verwys na valse Christene en predikers. Een van die tekens wat dui op die laaste dae, is die feit dat so baie antichriste na vore sal kom (1 Joh. 2:18). Antichriste is persone wat beweer dat hulle God se mag en outoriteit besit, maar dit nie het nie, of diegene wat Jesus en sy lering verwerp. Johannes gee vir ons drie kenmerke van valse leraars wat deur die gees van die antichris beheer word. Hulle skei hulle af van die gemeenskap van gelowiges (vs. 19), hulle ontken dat Jesus die Messias is (vs. 22) en hulle lei die gelowiges weg van Jesus af (vs. 26). Hy raai gelowiges aan om hulleself teen hierdie gees van die antichris te beskerm deur op die inwoning van die Heilige Gees te vertrou, die waarheid te ken en om in gemeenskap met Jesus Christus te lewe. Ons kan onsself teen die leuen, bedrog en misleiding beskerm deur die valse lering te onderskei en op die Waarheid, Jesus Christus, te fokus.