WAT ONS GLO

Ons glo die Ou- en die Nuwe-Testamentiese geskrifte is deur God geïnspireer en sonder dwaling in die oorspronklike manuskripte opgeteken. Dit is in Christus vervul, en is die openbaarmaking van ons skepping, sondeval, verlossing en herstel.

Ons glo in een God wat Hom in drie Persone onderskei, naamlik die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

Ons glo dat Jesus Christus ware God en ware mens is, die eniggebore Seun van God, asook die volmaakte openbaring van die Vader.

Ons glo in Jesus se maagdelike geboorte, Sy sondelose lewe, Sy offerdood, Sy opstanding in die liggaam, Sy hemelvaart en Sy triomfantelike wederkoms.

Ons glo dat ons, op grond van die sondeval, verlos moet word van die sonde en die ewige dood. God het in Sy genade hierdie verlossing deur Jesus voorsien, en slegs Jesus versoen almal wat berou het oor hul sondes en hul vertroue in Hom stel.

Ons glo dat dit die Heilige Gees is wat ons van ons sondes oortuig en ons deur berou en die nuwe geboorte in die huisgesin van God inlyf, sodat ons voortaan in Christusgelykvormigheid kan lewe en toeneem, asook in ons vertroue op God en in ons liefde vir ander.

Ons glo in een kerk, in wie die plaaslike gemeentes van God se huisgesin saamgevat is; wat saamgestel is uit almal wat in Christus is, en wat gesamentlik die opdrag ontvang het om van al die nasies navolgers van Christus te maak.

Ons glo in die wederkoms van ons Here om Sy volmaakte koninkryk te vestig, om dié wat lewe en dié wat dood is te oordeel, en om die vrede en die blydskap van Sy skepping te herstel.