Ek geniet dit so om op al die wandelpaaie in Idaho te stap en die skoonheid en prag van die omgewing te geniet. Dan dink ek soms daaraan dat hierdie wandelinge simbolies van ons geestelike reis is, want die Christelike lewe is immers net ’n wandeling met die Here Jesus wat ons vergesel. Hy het dwarsdeur die land Palestina gestap en oral waar Hy gegaan het, het Hy dissipels geroep en gesê: “Volg My!” (Matteus 4:19). Hierdie reis is nie altyd maklik nie. Somtyds voel dit asof dit makliker sal wees om liewer om te draai, maar wanneer dinge moeilik raak is dit beter om net ’n rukkie te rus en so nuwe krag kry. In die boek Pilgrim’s Progress beskrywe John Bunyan hoe moeilik dit vir Christen was toe hy by Hill Difficult gekom het, en waar hy eers asem moes skep. Daar het hy troos en bemoediging gekry in die wete dat die Here voortdurend by hom was en dat sy teenwoordigheid hom sou versterk. Hy het toe moed geskep en sy reis met volharding voortgesit. Net die Here weet waarheen ons lewenspad sal lei, maar ons het sy versekering: “Ek is by julle al die dae” (Matteus 28:20). Dis nie net ’n metafoor nie. Dis die waarheid. Jesus is ons metgesel. Daar is nie ’n uur dat Hy nie by ons is nie. En die wete dat Hy ons vergesel, maak die wandeling soveel makliker.