Het jy al ooit babakos geproe? Ek het en dis baie sag, want babas het geen ander keuse nie. Hulle kan nie harde en taai kosse eet nie en beslis nie ’n lekker geurige biefstuk nie! Tragies om te sê, maar daar is Christene wat doodtevrede is om maar net geestelike babakos te eet. Hulle is tevrede om maar net die eenvoudige basiese waarhede van die evangelie oor en oor te lees en gaan nie verder om die dieper waarhede van die evangelie te oordink en verteer nie. Gevolglik ontbreek dit hulle aan Bybelse begrip en oortuigings en daarom maak hulle dikwels verkeerde keuses. Hulle mag lank reeds Christene wees, maar hulle geestelike vermoë bly onderontwikkeld en hulle bly geestelike babas. Namate kinders groter word, begin hulle vaste kos te eet, en dit gee hulle nuwe krag en vitaliteit. Op dieselfde wyse het die gelowige ook die verantwoordelikheid om soliede, geestelike waarhede te oordink en homself of haarself daarmee te voed. Indien die gelowige nalaat om dit te doen, bly hy of sy steeds geestelik swak en ondervoed. Jy kan ’n persoon se fisiese ouderdom met redelike sekerheid skat deur na sy of haar uiterlike te kyk. Hulle geestelike ouderdom word openbaar deur hulle vermoë om tussen goed en kwaad te onderskei. Hoe is dit met jou gesteld? Is jy nog besig om geestelike babakos te eet?