Terwyl ek moes wag vir ’n roetiene mediese ondersoek by ’n plaaslike hospitaal, het ek ’n muurplaat met ’n beeld van Jesus aan die kruis, opgemerk. Later moes ’n verpleegster sekere administratiewe vrae aan my stel en onder andere of ek enige geestelike probleme het wat ek graag met ’n leraar sou wou bespreek. Ek het gesê dat ek dit waardeer dat sy daardie vraag gestel het, want vir my was dit iets ongewoons in die wêreld waarin ons leef. Met ’n glimlag het sy gesê dat dit ’n Christelike hospitaal is en dat dit deel van hulle opdrag is. Ek was diep beïndruk deur die feit dat daar vandag nog sulke mense in hierdie sekulêre wêreld is. Petrus het die Christene van die eerste eeu, wat oral versprei was as gevolg van vervolging, aangemoedig om dit as ’n voorreg te beskou wanneer hulle vervolg word. “Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as ’n voorreg beskou. Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie. In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus … Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe” (1 Petrus 3:14,15). Net soos die dame by die hospitaal hulle geloof openlik bely het, moet ons dit ook doen. Indien ons gekritiseer en sleg behandel word, moet ons met deernis en begrip reageer. Ons moet nooit bang wees om te erken in wie ons glo nie.