Jerusalem was in vlamme gehul en verwoes en die profeet Jeremia was in trane. Sy profesie van Goddelike oordeel is geïgnoreer en nou het sy verskriklike woorde in vervulling gegaan. In die kort boekie, Klaagliedere, word die vernietiging van Jerusalem beskrywe en ook die profeet se rouproses oor die skrikwekkende gebeure. Jeremia het hierdie boekie geskrywe met inagneming van die 22 letters van die Hebreeuse alfabet, sodat die lesers dit maklik sou kon verstaan. Maar hierdie tegniek wys ook daarop dat hy nie sy rouproses wou verkort of vergemaklik nie. Hy het doelbewus tyd geneem om oor sy hartseer na te dink, dit te verwerk en neer te skryf van A tot Z. Nogtans het die troos en genade van God selfs tydens hierdie routydperk na vore gekom. Herinneringe aan die Here se goedheid en genade van die verlede, het hom bemoedig en hoop gegee vir die toekoms: “Die Here verstoot ’n mens nie vir altyd nie; as Hy beproewing oor ’n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot” (Klaagliedere 3:31-32). Indien jy die afgelope tyd deur beproewing en hartseer gegaan het, moenie vergeet om tyd te neem om te rou nie. Dink na oor die goedheid van God – dan sal jy in staat wees om sy troos, bemoediging en hoop vir die toekoms te beleef.