Robyn en Steve het ’n beradingsbediening wat ’n baie geringe inkomste voorsien. Onlangs het ’n krisis in die familie hulle genoodsaak om ’n reis van oor die 12,000 kilometer aan te pak met hulle mini-bakkie wat al baie kilometers gedoen het. Nadat die krisis hanteer is en die terugtog na Michigan begin het, en hulle nog baie ver van die huis af was, het die voertuig begin sluk en tot stilstand gekom. ’n Werktuigkundige wat na die voertuig gekyk het, het sy kop geskud en gesê: “Julle sal ’n nuwe enjin moet kry!” Omdat hulle dit nie kon bekostig nie, moes hulle maar aansukkel huis toe. Dit het drie dae geneem, ’n kan olie, baie gebede en na veel gesukkel het hulle eindelik tuis aangekom – ’n absolute wonderwerk. Hulle hoor toe van ’n “motor sendeling”, ’n Christen wat mense in die bediening help. Hy het ’n nuwe enjin gratis verskaf. Indien Steve die enjin langs die pad vervang het, sou dit hom duisende dollars gekos het, geld wat hy nie gehad het nie. Ons lees in Eksodus 15 dat die Israeliete deur die Here die woestyn ingelei is. Na drie dae het hulle water opgeraak en daar was nêrens waar hulle water kon kry nie. Maar God was bewus van die probleem en die oplossing sou by Mara gebeur (vs. 25) en later by Elim (vs. 27). God het nie alleen water voorsien nie, maar ook ’n rustyd gebied. Selfs al lyk die situasie onmoontlik, ons kan God vertrou. Hy weet wat ons nodig het.