Herfs is die jagseisoen hier in Michigan. Vir ’n paar weke word gelisensiëerde jagters toegelaat om in die woude die verskillende dieresoorte te jag. Sommige jagters bou selfs hoë houtstellasies waarop hulle kan sit en vir ure wag totdat ’n bokkie tevoorskyn kom en binne trefafstand is. Wanneer ek dink aan daardie jagters wat vir ure so geduldig kan sit en wag vir ’n bokkie om in die visier te verskyn, dan dink ek daaraan hoe ongeduldig ons kan wees wanneer ons op God moet wag. Ons is geneig om te dink dat “wag” beteken om “tyd te mors.” Indien ons op iets of iemand wag, dink ons dat ons niks doen nie, en in hierdie gejaagde kultuur voel dit vir ons soos ’n mors van tyd. Maar om te wag is belangrik, want dit doen verskillende dinge. Die belangrikste is seker dat dit ons geloof toets. Diegene wie se geloof swak is, sal naderhand moedeloos word en ophou wag, terwyl diegene met ’n sterk geloof bereid sal wees om lank en volhardend te wag. Ons lees in die Kersverhaal in Lukas 2 van twee persone wat getoon het dat hulle gewillig was om te wag. Simeon en Anna het baie lank gewag, maar die tyd was nie gemors nie; dit het hulle in die posisie geplaas dat hulle die koms van die Messias kon beleef (vs. 22-38). As ons nie dadelik ’n antwoord op ons gebed ontvang nie, hoef ons nie geloof te verloor en moedeloos te word nie.