Toe Sheri verloof geraak het, was haar enkellopende vriendin Amy, saam met haar bly. Sy het ’n kombuistee vir Sheri beplan, haar gehelp om haar bruidstabberd uit te kies en voor haar die kerk binnegestap as een van haar bruidsmeisies. Toe Sheri en haar man kinders gekry het, was Amy saam met haar bly en sy het haar in Sheri se geluk verheug. Later het Sheri aan Amy gesê: “Jy het my in moeilike tye bemoedig, maar wat my veral verheug, is die feit dat jy ook saam met my bly is, wanneer dit goed gaan. Jy het nog nooit enige jaloesie getoon nie en is altyd daar om saam met my te jubel wanneer ek voorspoedig en geseënd is.” Toe Johannes die Doper se dissipels hoor dat daar ’n nuwe rabbi is wat baie volgelinge het, het hulle gedink dat Johannes miskien jaloers sou wees (Joh. 3:26). Hulle het na hom toe gekom en gesê: “Weet u, Hy doop ook, en almal gaan na Hom toe!” Maar Johannes het hom verheug oor Jesus se bediening, Hy het gesê: “Ek is maar net voor Hom uit gestuur … die vriend van die bruidegom staan en luister of hy kom en is baie bly wanneer hy die stem van die bruidegom hoor. Daarom is ek nou met blydskap vervul” (Joh. 3:28,29). Ons behoort ook ’n nederige gesindheid te openbaar. In plaas van om aandag op onsself te vestig, moet ons alles wat ons doen tot eer van God doen. “Hy moet meer word en ek minder” (Joh. 3:30).