Die omgewing waarin ’n mens woon, plaas sekere verpligtinge op jou oor hoe jy moet lewe. In ons buurt word die vullishouers op Dinsdae verwyder en daarom is dit my verantwoordelikheid om te sorg dat die houer die aand vantevore reeds uitgesit is. Deur toe te laat dat vullis in die strate ophoop, sal die bure ontstel en die verhouding met ander benadeel. Daar is ook verskeie kennisgewingborde wat inwoners waarsku om stadig te ry omdat baie kinders buite speel, kinders wat sommer, sonder om te kyk, oor die straat kan hardloop – agter ’n bal aan. Dit is belangrik om te onthou dat God ons “onder die heerskappy gestel het van sy Seun” (Kol. 1:13) (Koninkryk van sy Seun OV.) en dit plaas verantwoordelikhede op ons om so te lewe dat ons optrede ons geestelike woonplek reflekteer. Dis die rede waarom Paulus ons herinner dat die lewe nie ’n saak van eet en drink is nie, maar “van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde” (Rom. 14:17). Om volgens God se standaarde te lewe, ’n vredemaker en ’n bron van vreugde vir ander te wees, is wat die koninkryk van God behels. En as ons só lewe, verbly ons die Here en is ons vir ander tot seën. Klink dit nie vir jou soos ’n omgewing waar persone baie graag sou wou woon nie?