Dit was my eerste dag op die trekker. ’n Ligte windjie het oor die land gewaai. Die geluid van die enjin het alle ander geluide verdoof. Ek het die ploeg in die grond laat sak en die trekker in beweging gebring. Ek het na al die ratte gekyk en die koue staal van die stuurwiel gevoel. Dit was lekker om te besef hoeveel krag tot my beskikking is. Eindelik aan die oorkant het ek teruggekyk, maar in plaas van ’n reguit voor, het dit soos ’n kronkelende slang, met meer kurwes as die Indianapolis Motor Renbaan, gelyk. Ons weet beter. “Ploeg met jou oog op die heiningpaal oorkant” is die raad wat ons gekry het. Deur die oog op ’n spesifieke punt aan die oorkant te vestig, kan jy seker wees van ’n reguit lyn. Toe ek die trekker omgedraai en teruggery het, het ek die raad met sukses gevolg. Die lyn was pylreguit. Die enigste tyd dat die lyne skeef was, was toe ek nie ’n fokuspunt gehad het nie. Paulus het dieselfde wysheid openbaar toe hy sy briewe geskryf het. Die fokus moet altyd op Christus wees en hy vertel van die impak wat dit op hom gehad het. Hy het nie net alles wat sy aandag afgetrek het (Filip. 3:8,13) vermy nie, maar sy fokus ingestel (vs. 8,14), die resultate gesien (vs. 9-11) en die koers vir ander aangedui (vs. 16,17). As ons Paulus se voorbeeld volg en op Christus fokus, sal ons ’n reguit pad loop en God se doel in die lewe bereik.