Toe ek in Brasilië was, het ek die Iguazu watervalle, die grootste in die wêreld, besoek. Die massiewe valle is voorwaar asemrowend, maar wat my die meeste van die valle beïndruk het, was die klank, die overdowende geruis van die massas water. Dit het byna vir my gevoel asof ek in die geruis opgeneem is en deel daarvan geword het. Dit was ’n oorweldigende ondervinding wat my daaraan herinner het dat ek maar net ’n nietige mens is. Later het ek weer aan die gebeure gedink en toe het my gedagtes onwillekeurig na die apostel Johannes in Openbaring 1:15 gegaan. Terwyl hy op die eiland Patmos was, het hy ’n visioen van die opgestane Here gesien. Johannes het Jesus in al sy heerlikheid beskryf, sy kleredrag en sy fisiese voorkoms. En toe het hy die stem van Christus beskryf as “die gedruis van ’n groot watermassa” (vs. 15). Ek dink nie dat ek daardie woorde en die betekenis daarvan regtig verstaan het nie, totdat ek die Iguazu valle besoek het. Ek onthou hoe ek oorweldig is deur die overdowende gedreun. Ek het bewus geword van my eie nietigheid en geringheid voor Hom. Ek kon ook beter verstaan waarom Johannes “by sy voete neergeval en bly lê [het] soos een wat dood is” (Openb. 1:17). Miskien sal daardie beskrywing jou ook help om die wonder van Jesus se teenwoordigheid te verstaan en jou daartoe bring om Johannes se voorbeeld te volg en Hom te verheerlik.