Alhoewel my kookkuns nie juis noemenswaardig is nie, probeer ek tog soms om ’n koek te bak deur voorafgemengde bestanddele, wat in winkels aangebied word te koop, en dan eiers, kookolie en water by te voeg. Die mengsel word dan goed geroer. Maar om ’n smaaklike koek te bak is dit belangrik dat die regte bestanddele in die regte hoeveelhede gebruik moet word. Dit help my soms om aan God se grootste gebod te dink (Matt. 22:36-38) en ook aan die groot opdrag (Matt. 28:19,20) om die evangelie uit te dra. Toe Jesus aan sy volgelinge opdrag gegee het om uit te gaan en die evangelie te verkondig het Hy hulle nie toestemming gegee om onbeskof en liefdeloos te wees nie. Jesus se eie weergawe van die eerste gebod is om God lief te hê “met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (Matt. 22:37-39). Daardie opdrag word gevolg met die opdrag om “jou naaste lief [te] hê soos jouself.” Dwarsdeur die Nuwe Testament vind ons hierdie model van deernis en liefde en dit word op baie plekke herhaal, ook in die groot liefdeshoofstuk (1 Kor. 13). Petrus roep ons op om met “beskeidenheid en eerbied” rekenskap te gee van die hoop wat in ons lewe (1 Pet. 3:15). In ons ywer om die evangelie met ander te deel, moet ons altyd die regte balans tussen die twee bestanddele handhaaf: die ware evangelie en die goddelike liefde. Die smaaklike koek bak die beste in die warmte van God se liefde.