Onlangs het ek weer Psalm 131 gelees. Dit is een van my geliefkoosde psalms en in die verlede het ek dit as bemoedigend beskou en ’n hulp om my te laat verstaan dat geheimenis een van die karaktertrekke van God is. Dit het my uitgedaag om tot ruste te kom en te aanvaar dat ek nooit alles sal kan verstaan wat God in die heelal gedoen het nie. Maar toe het ek ’n ander sy van Dawid se stille gees gesien. Ek, as mens, is ook onmagtig om alles te verstaan wat die Here in my doen en boonop is dit absoluut onmoontlik om eers te probeer. Dawid tref ’n vergelyking tussen ’n baba wat gespeen is en nie langer ongeduldig is oor wat dit eens geëis het nie en ’n siel wat dieselfde les geleer het. Dis ’n oproep om nederigheid aan te leer, om geduldig te wees en tevrede met elke omstandigheid, wat dit ook al mag wees, ja, selfs al kan ek nie God se redes verstaan nie. Goddelike logika is net te veel vir my verstand. Ek vra: “Waarom hierdie beproewing? Waarom hierdie angs?” Die Vader antwoord: “Wees stil, my kind. Jy sou nie verstaan al sou ek dit aan jou verduidelik. Vertrou My net.” Daarom vra ek myself af: “Kan ek nog, in alle omstandighede ‘op die Here wag’” (Ps. 131:3). Kan ek met geduld en geloof op Hom wag sonder om God se wysheid te bevraagteken? Kan ek Hom vertrou terwyl Hy besig is om sy goeie en perfekte wil ook in my lewe te doen?