Wanneer ons die Geloofsbelydenis in die kerk opsê, sê ons: “Ek glo in die Heilige Gees.” Die skrywer J. B. Phillips sê: “Elke keer as ons hierdie woorde uitspreek bely ons dat ons glo die Heilige Gees is ’n lewende God wat gewillig is om die menslike persoonlikheid binne te gaan en dit te verander.” Soms vergeet ons dat die Heilige Gees ’n Persoon is en nie net ’n onpersoonlike mag nie. Die Bybel beskryf Hom as God. Hy is alomteenwoordig (Psalm 139:7,8), Hy weet alles (1 Kor. 2:10-11) en Hy beskik oor onbeperkte mag (Lukas 1:35). Hy kan alles doen wat slegs God kan doen. Hy kan lewe skep (Gen. 1:2) en lewe gee (Rom. 8:2). Hy is in alle opsigte aan die ander twee Persoonlikhede in die Drieeenheid gelyk – die Vader en die Seun. Die Heilige Gees is ’n Persoon wat op persoonlike wyse by ons betrokke raak. Hy is bedroef as ons sondig (Efes. 4:30). Hy leer ons (1 Kor. 2:13), Hy lei ons (Joh. 16:13), bid vir ons (Rom. 8:26), gee aan ons geestelike gawes (1 Kor. 12:11) en verseker ons van redding (Rom. 8:16). Indien ons vergifnis van sonde deur Jesus Christus ontvang het, woon die Heilige Gees in ons. Hy verlang om ons te verander sodat ons meer en meer soos Jesus kan word. Kom ons werk saam met die Gees deur God se Woord te lees, te bid en op sy krag te reken sodat ons Hom kan gehoorsaam.