’n Goeie vriend het onlangs 90 geword. Hy beskryf sy lewe as volg: “Ek beskou hierdie tydperk as ’n tyd om oor my lewe te reflekteer. Ek bestee baie ure om terug te dink. Dis vir my ’n tyd van ‘Vreugdevolle Herinnering’. Dis so maklik om te vergeet wat die Here vir jou gedoen het en hoe Hy jou gelei het. Onthou dus ‘vergeet nie een van sy weldade nie’” (Psalm 103:2). Dis tipies van hierdie kosbare vriend. Vir meer as 50 jaar admireer ek hom. Eerder as om oor teleurstellings te reflekteer, was sy brief vol dankbaarheid vir sy God wat hom so getrou gelei het. Hy het oor die Here se tydelike sëen nagedink: sy goeie gesondheid, die vreugde wat hy met sy vrou en gesin gedeel het, sukses wat hy in sy werk behaal het, verrykende vriendskappe en boonop wonderlike geleenthede wat hy in diens van God kon benut. Hy het dit alles as kosbare geskenke beskou – dit wat hy nie verdien het nie, maar uit genade ontvang het. Daarna het hy oor sy geestelike seëninge nagedink – die invloed wat sy Christenouers op hom gehad het, God se vergifnis wat hy ontvang het toe hy as tiener Jesus as Verlosser aangeneem het. Hy het afgesluit deur te meld van bemoediging wat hy van die skool, kerk en Christenvriende ontvang het. Dis ’n model wat ons behoort na te volg – die vreugde van herinneringe. “Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie.” (vs. 2)