Toe ek ’n tiener was, het ek en my pa dikwels op jagtogte of visvangekspedisies gegaan. Ons het goeie herinneringe aan die meeste van hierdie geleenthede, maar ek onthou dat een van ons visvang-uitstappies byna ’n totale ramp was. Ons het opgery na ’n hoë bergtop en daar ons kamp opgeslaan. Dit was ’n baie afgeleë area. Toe het ek en Pa ’n lang ent gestap totdat ons by ’n stroompie gekom het waar ons visgevang het. Na ’n lang dag was dit tyd om na die kamp terug te keer. Maar toe ons begin stap, het Pa skielik naar en flou gevoel. Hy het byna geen krag gehad nie. Ek het probeer om kalm te bly en nie paniekerig te word nie. Ek het hom laat sit en baie vloeistowwe laat drink.Toe het ek gebid en die Here gevra om in te gryp en ons te help. Geleidelik het Pa begin beter voel en ons het in beweging gekom. Pa het aan my lyfband vasgehou terwyl ons stadig teen die skuinste uitgeklouter het. Dit gebeur somtyds dat ons ons in ’n skynbaar hopelose situasie bevind en dan voel ons asof ons nie krag het om voort te gaan nie. Wanneer dit gebeur moet ons God se belofte onthou: “Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie” (Jesaja 40:29). Voel jy miskien vandag vermoeid, uitgeput? Vra dan die Here om jou te help. Steun op sy krag en gaan voort, die oë op Hom gerig. So sal jy deur die vallei kom.