Ek het gelees van Kaptein Ray Baker, ’n vlieënier verbonde aan die Strategiese Lugmag tydens die oorlog in Vietnam. Hy en ander vlieëniers is deur die Lugmag opgelei om sodra hulle die sirene hoor, dadelik na hulle vliegtuie te hardloop. Vele kere, gedurende etes, het die sirene weerklink en dan het Ray opgespring en na sy vliegtuig genael. Hy is geleer dat onmiddellike gehoorsaamheid ’n absolute vereiste is. Hy was so goed opgelei dat hy eendag, terwyl hy met verlof besig was om middagete in ’n restourant te geniet en ’n sirene gehoor het, opgespring en na buite genael het. Toe Jesus sy eerste volgelinge geroep het, was hulle onmiddellik gehoorsaam. Die roeping van hierdie vistermanne was onverwags. Tog het hulle “onmiddellik … die nette gelos en Hom gevolg” (Markus 1:18). Die skrywer van hierdie evangelie, Markus, wou miskien sy lesers bewus maak van die outoriteit van Jesus. Toe Jesus hulle geroep het, het hierdie manne gespring om Hom te gehoorsaam omdat die taak om mense na Jesus en die koninkryk te lei belangriker was as om vis te vang. Wanneer die Here Jesus ons roep om Hom te volg of iets vir Hom te doen, wil Hy nie hê dat ons moet uitstel nie. Hy verwag onmiddellike gehoorsaamheid veral wanneer ons ander mense van Jesus moet vertel. Bring vandag die goeie nuus van verlossing in Jesus Christus na iemand anders.