Die skrywer van Spreuke beskrywe ’n dwase persoon as iemand wie se woorde “soos dolksteke” is (Spreuke 12:18). Ons tonge kan soos ’n baie skerp Switserse dolk wees wat baie lemme het en ons kan dit gebruik om ander mense op baie maniere seer te maak, te vernietig en te na te kom. Ons ongesonde houdings van woede, irritasie, frustrasie en ongeduld, dra almal by tot ons spraak wat ander soveel skade aandoen. En terwyl ons met ons opmerkings sny, jaag ons vriende uitmekaar en vernietig ons verhoudinge. Dis geen wonder dat die lys van sewe dinge wat die Here haat en wat vir Hom afgryslik is, almal insluit wat “rusie stook tussen broers” (Spreuke 6:19). Hoe kry ons dit reg om nie op daardie lys geplaas te word nie? In die eerste plek moet ons noukeurig let op wat ons sê. Skinder en kwaadpraat is vir ons verbode en woorde wat seermaak in plaas van om heling te bring, is nie welkom nie. Om groot te praat en te jok is ook onaanvaarbaar. In plaas daarvan moet ons woorde van liefde, vergifnis, verdraagsaamheid en waarheid spreek. Die waarheid moet ons verhoudinge beheer. Ons moet genade aan mekaar betoon, want per slot van sake, as Jesus nie met genade na ons uitgereik het nie, waar sou ons vandag gewees het? Daarom is dit wys om die mes te bêre en met woorde van liefde en deernis na ander uit te reik. Lê jou daarop toe om ander te help en by te staan.