Verlede somer het ek en my man per trein vanaf Grand Rapids na Chicago gery. Ons sitplekke het na agter gekyk en al wat ons kon sien was dinge waarby ons reeds verby is. Ons kon nie sien waarheen ons gaan nie. Geboue, mere, en bome het by die venster verbygeflits nadat ons reeds by hulle verby is. Ek hou nie daarvan nie. Ek wil graag sien waarheen ek onderweg is. Somtyds voel ons ook so wat die lewe aanbetref. Ons wil sien wat gaan gebeur. Ons wil weet hoe sekere situasies gaan verloop en hoe die Here ons gebede gaan beantwoord. Maar al wat ons met sekerheid kan weet, is dit wat ons alreeds beleef het. Dit wil sê, as ons nie geloof het nie. Die “geloof hoofstuk” van die Bybel is Hebreërs 11. Dié hoofstuk praat van twee realiteite wat sekere karakters in die Ou Testament deur die geloof kon sien. Dit vertel van Noag, Abraham en Sara wat gesterf het, maar nogtans God se beloftes “uit die verte gesien en daaroor gejuig” het. Hulle het hierdie beloftes geglo en aangeneem en “na ’n beter vaderland, dit is ’n hemelse” verlang (Hebr. 11:13,16). Moses het volhard “soos iemand wat die onsienlike God sien” (Hebr. 11:27) bedoelende Jesus. Alhoewel ons nie met sekerheid weet hoe die worstelinge van hierdie tyd gaan uitloop nie, kan ons as gelowiges, vooruit kyk in die vaste wete dat ons ’n hemelse tuiste het en eendag ewig by Jesus sal wees.