“Glo, maar maak seker.” My man hou baie van hierdie stelling wat deur Ronald Reagan gemaak is. Toe hy president was, wou hy altyd graag alles glo wat mense hom in sy samesprekings vertel het. Maar aangesien die veiligheid van die land van die waarheid afhanklik was, wou hy sekermaak dat wat aan hom gesê is, wel die volle waarheid is. Handelinge 17:11 vertel ons dat die inwoners van Berea dieselfde gesindheid openbaar het. Hulle wou ook seker maak van die waarheid. “Hulle het met groot belangstelling na die woord geluister en elke dag die Skrif ondersoek om te sien of dit is soos Paulus sê.” Hulle het nie sommer alles as die waarheid aanvaar nie. Nee, hulle wou sekermaak – en wel elke dag. Dis belangrik. Waar ons ook al ons Bybelinligting kry – of dit by die kerk, Sondagskool, radio of TV is – ons moet sekermaak dat dit wat ons geleer word waar is, volgens die geïnspireerde Woord van God (2 Tim. 3:16-17). “Lê jou daarop toe om … ’n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra [te wees] – wat die woord van die waarheid suiwer verkondig” (2 Tim. 2:15). Indien ons dit doen, sal ons nie die prooi word van diegene wat ’n “evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie” wat aan ons verkondig is, en prooi word van valse leraars in “skaapsklere” wat eintlik “verskeurende wolwe” is nie (Matt. 7:15) . Onthou, glo … maar maak seker!