Maggie gee nie veel om vir televisie nie. Sy sal liewer by die venster uitkyk as om na ’n klein skerm te staar. Sy is ook nie lief vir lees nie. Sy het al by geleentheid aan boeke “gekou”, in ’n baie letterlike sin. Nogtans, wanneer ek en Jay lees of TV kyk sal Maggie meedoen, want sy geniet dit om by ons te wees. Maggie is ons hondjie wat baie toegewyd aan ons is. Meer as enigiets anders, ( wel min of meer enigiets anders) wil sy by ons wees. Die Engelse woord dogged beteken om gedetermineerd en volhardend te wees. Hierdie woorde is ’n baie goeie beskrywing van Maggie. Dit behoort ook ’n beskrywing van ons te wees. Indien ons toegewyd aan God is, sal ons by Hom wil wees, al is Hy besig om iets te doen wat ons nie verstaan nie en wat vir ons verkeerd voel. Miskien mag ons vra: “Waarom, Here?” wanneer dit lyk of Hy kwaad is (Ps. 88:14) of dat Hy slaap (Ps. 44:24) of wanneer dit vir ons lyk dat die sondaars so voorspoedig is (Jer. 12:1). Maar indien ons toegewyd bly ten spyte van al ons vrae, sal ons die volheid van vreugde in sy teenwoordigheid ondervind (Ps. 16:11). Jesus het geweet dat ons baie vrae sou hê. Om ons daarvoor voor te berei het Hy ons aangemoedig om in Hom en in sy liefde te bly (Joh. 15:9-10). Selfs wanneer God se weë vir ons onverstaanbaar is, bly sy liefde steeds verseker. Daarom kan ons Hom doggedly navolg.