Die woord Ebenezer in die Engelse kerklied Come Thou Fount of Every Blessing, verwys na ’n tydperk toe die volk Israel hard probeer het om die noue verhouding wat hulle eens met God gehad het, te herstel. Hulle geestelike leier, Samuel, het gesê dat as hulle hul valse gode sou verwerp en heelhartig tot God sou terugkeer, sou Hy hulle verlos uit die hand van die Filistyne deur wie hulle verdruk is (1 Samuel 7:2-3). Toe die volk inderdaad van hulle sonde weggedraai het, het die Here aan hulle die oorwinning gegee. Uit dankbaarheid het “Samuel … ’n klip gevat en dit regop gesit tussen Mispa en Sen. Hy het die plek Eben-Haeser genoem, ‘want’ het hy gesê, ‘tot nou toe het die Here ons gehelp’” (1 Samuel 7:12). Wanneer ons die lied sing Here I raise my Ebenezer, hither by Thy help I’ve come; and I hope by Thy good pleasure, safely to arrive at home, word ons daaraan herinner dat ons in tye van nood en teleurstellings altyd na die Here kan gaan en by Hom vergifnis en hulp kan ontvang. Wat ons ook al gedoen het, waar ons ook al afgedwaal het, hoe groot ons sondes ook al mag wees, Hy sal ons altyd terugverwelkom en ons genadig wees. Hy is altyd daar vir ons. ’n Klein klippie op ’n rak of op ’n lessenaar kan ons eie Ebenaesar wees – ’n kragtige herinnering daaraan dat die Here altyd daar is en dat Hy ons tot die einde toe sal dra.