Op die dag van sy opstanding het die Here Jesus aan sy dissipels verskyn en aan hulle sy voete en hande getoon. Ons word vertel dat hulle dit aanvanklik nie kon glo nie, dit was te wonderlik vir woorde (Lukas 24:40-41). Tomas was nie by die ander dissipels toe Jesus aan hulle verskyn het nie en Hy het probleme ondervind om dit te glo, totdat hy dit self gesien het. Toe Jesus aan Tomas verskyn het en hom beveel het om sy vingers in die merke te steek het hy uitgeroep: “My Here en my God!” (Johannes 20:28). Later toe Paulus die Filippense van sy eie lyding vertel het, het hy ook Jesus as Here bely. Hy het getuig dat hy op die plek gekom het waar hy alles as waardeloos beskou “sodat ek Christus as enigste bate kan verkry” (Filippense 3:8). Ek en jy het nog nooit gesien hoedat Jesus ’n storm tot bedaring bring en iemand uit die dood opwek nie. Ons het nie aan sy voete gesit en gehoor hoedat Hy preek en die Woord uitlê nie. Maar deur die oë van die geloof, is ons geestelik genees en uit die geestelike dood opgewek deur sy dood aan die kruis ter wille van ons. Daarom kan ons by Paulus, Tomas en duisende ander aansluit en Jesus Christus as ons opgestane Here verklaar en bely! Jesus het gesê: “Gelukkig is dié wat nie gesien het nie, en tog glo” (Johannes 20:29). Indien ons glo, kan ons ook met blydskap uitroep: “My Here en my God!”