Ek weet nie van jou nie, maar dis vir my nogal aangenaam as ek lof ontvang wanneer ek iets vir iemand anders doen. En ek glo nie dis net ek wat so voel wanneer ek ’n dankie sê kaartjie of woorde van dankbaarheid ontvang nie. Maar ek weet ook dat dit goed is om anoniem te gee, want ons Here Jesus het dit aanbeveel. Om daardie rede was ek nogal beïndruk oor die gawe wat eendag anoniem op ons voorstoep beland het. Ons was uithuisig en toe ons terugkeer, het daar verskeie potte met pragtige sonneblomme in, op die voorstoep gestaan. Ons het geweet waarom die blomme daar geplaas is – dit was die herdenking van ons dogter Melissa, wat oorlede is, se verjaarsdag, en sy was baie lief vir sonneblomme. Iemand wou graag aan ons sê: “Ons onthou nog vir Melissa.” Deur die geskenk anoniem te gee, het hulle meer op ons gefokus as op hulleself. Stel jou voor ’n wêreld waar mense oorvloediglik en onselfsugtig gee! Jesus praat oor sodanige gawes in Matteus 6. Hy sê: “As jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou goeie daad verborge kan bly. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon” (Matteus 6:3,4). Realisties is dit nie altyd moontlik om anoniem te gee nie. Maar ons gawes moet altyd met daardie gesindheid gegee word – nederigheid en liefde – ware Godgerigte barmhartigheid.