Nou die dag het ek ’n ontstellende verslag gelees oor mense wat skynbaar dink dat dit aanvaarbaar is om die oseaan as ’n reuse vullishoop te gebruik. Hier volg ’n aanhaling uit die verslag: “Indien jy hierdie reuse hoop drywende plastiek in die Stille Oseaan bemerk, onthou dan dit staan bekend as Die Groot Stille Oseaan Vullishoop. ’n Ongelooflike 46,000 stukke plastiek dryf op elke vierkante kilometer rond. Dit is 3 miljoen ton plastiese afvalstof wat in ’n area groter as Texas ronddrywe.” Ander bronne sê die hoeveelheid vullis is nog meer en plastiek is besonder sleg omdat dit nie oplos nie en dus ’n voortdurende probleem skep. Gedurende ons verblyf hier op aarde is aan ons opgedra, soos ook aan Adam, om na die skepping en die diere van die veld om te sien. “Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas” (Genesis 2:15). God verheug Homself oor dit wat Hy gemaak het en dit sluit die see en alles wat daarin lewe ook in (Genesis 1:10, 20-21). Die wêreld behoort ons aan die grootheid van ons Skepper te herinner en dit moet dien as ’n inspirasie om Hom in alles te verheerlik. Om dit onverskilliglik as ’n vullishoop te gebruik, skend die skoonheid van die natuur en bedreig die diere, voëls en mense wat daarop woon. Om respek te betoon aan die skepping, die land, see en lug is die plig van Christene.