Terwyl ek deur ’n winkel gestap het, het ek ’n man met ’n helderrooi Themp aan gesien. Op die hemp was die redelik negatiewe boodskap: “Vertroue: Dis die gevoel wat jy kry net voordat jy die situasie verstaan.” Ek het geglimlag vir hierdie vreemde gedagte, maar ek moes ook erken dat die hemp ’n ernstige waarskuwing ingehou het. Dis ’n waarskuwing vir ons almal wat so graag dinge in ons eie krag wil doen, sonder dat ons bewustelik en volkome op die Here vertrou. As ons dink dat ons al die lewenstake in ons eie krag kan doen, sal daardie valse vertroue beslis een of ander tyd tot ’n krisis lei – en dan sal ons ineenstort onder die gewig van al ons tekortkominge. Paulus skryf aan die gemeente in Korinte oor hierdie aangeleentheid deur na ou Israel te verwys. Hulle was so vol selfvertroue en selfgenoegsaamheid en het soveel wonderlike dinge in hulle guns gehad, maar hulle het al daardie voordele misbruik as ’n verskoning om sonde te doen en was so vol van hulleself dat dit eindelik tot hulle val gelei het. Paulus waarsku ons dat Israel se selfvertroue ons op ons hoede moet plaas. Wat is sy gevolgtrekking? “Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (1 Korintiërs 10:12). Psalm 118 toon aan ons die beter weg: “Om by die Here te skuil, is beter as om op mense te vertrou” (Psalm 118:8). Waar plaas jy jou vertroue – op jouself of op die Here?