Die boek The Preacher and the Presidents vertel die verhaal van die evangelis Billy Graham se bediening. Hy het kontak met die presidente gehad vanaf Harry S. Truman tot George W. Bush en hy was dikwels ’n besoeker by die Withuis. Maar ongeag sy wye invloedsfeer, het Graham nooit eer vir homself toegeëien nie, maar altyd die genade van God wat deur hom werk, gekrediteer. Die apostel Paulus was nog iemand wat ook by geleentheid teenoor mense in hoë posisies kon getuig. Christus het van hom gesê: “Ek het hom gekies as my werktuig om my Naam uit te dra onder die heidennasies en hulle konings en ook onder Israel” (Handelinge 9:15). Ons lees in Handelinge dat Paulus se invloedsfeer persone soos Feliks, Festus en Herodes Agrippa ingesluit het, ja, miskien die keiser self ook (Handelinge 24-26). Maar soos wat Billy Graham jare later sou doen, het Paulus ook na die genade van God heengewys, die genade wat deur hom werk: “Eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is” (1 Korintiërs 15:10) Jy mag miskien nooit geroep word om teenoor staatshoofde, presidente of belangrike mense te getuig nie, maar God het mense in jou omgewing geplaas teenoor wie Hy wil hê jy moet getuig en sy boodskap van hoop verkondig. Waarom bid jy nie dat die Here aan jou die geleenthede bied en dat sy genade deur jou vloei, sodat jy ander mense kan beïnvloed?