’n Vriend het my vertel hoedat die leiers van hulle gemeente hulleself vir twee dae afgesonder het sodat hulle kon bid, beplan en God aanbid. Hy het gesê: “Hierdie tydperk van afsondering gaan ons help om as ’n gemeente vooruit te beweeg.” Dit het vir my nogal eienaardig geklink, die gedagte om as ’t ware te retireer om voorwaarts te gaan. Maar dis baie waar. Somtyds is dit nodig om terug te trek en te hergroepeer voordat jy weer betekenisvolle vooruitgang kan maak. Dit is besonder waar, veral in ons verhouding met die Here God. Jesus self het van hierdie metode gebruik gemaak. Na ’n baie besige dag waarop Hy besondere wonderwerke in die omgewing van die See van Galilea gedoen het, het Hy homself eers afgesonder en as ’t ware teruggetree. “Hy [het] die mense weggestuur … [en] alleen na die berg toe gegaan … om te aanbid.” (Matteus 14:23). En toe dit aand geword het, was Hy daar op die berg, alleen in die kosbare teenwoordigheid van sy Vader. In hierdie haastige en onrustige wêreld is dit so maklik om onsself uit te put as ons voortdurend strewe om ten alle koste vooruit te gaan. Maar selfs in ons verlange om toegewyde Christene te wees, moet ons gereeld tyd maak om alleen met die Here te verkeer. Slegs deur die vernuwing en krag wat Hy gee, kan ons die toerusting vind om voorwaarts te gaan. Retireer dus ’n bietjie sodat jy vorentoe kan gaan.