Dit wil voorkom asof Abel nie in die eerste helfte van Hebreërs 11 inpas nie. Hy’s die eerste een wat aangeteken word, maar sy verhaal is nie soos dié van die ander nie. Enog is hemel toe sonder om te sterwe, Noag het die mensdom gered, Abraham het ’n mensegroep begin, Isak was ’n belangrike persoon, Josef het regeerder in Egipte geword en Moses het die grootste volksverhuising ooit gelei. Dis duidelik dat hulle geloof beloon is. Hulle het God vertrou en Hy het hulle ryklik geseën. Hulle het gesien hoedat God se beloftes voor hulle oë vervul word. Maar Abel? Die tweede seun van Adam en Eva het geloof gehad, maar wat het hy daarvoor ontvang? Hy is vermoor! Dit klink meer soos die persone in verse 35-38 wat ontdek het dat om God te vertrou nie altyd tot onmiddelike seën lei nie. Hulle is bespot, “het lyfstraf verduur, selfs boeie en gevangenskap.” Dis nie vir ons aanneemlik nie! Nee dankie! Ons sal liewer helde wees soos Abraham en die ander in plaas van om “verdruk en mishandel” (Hebreërs 11:37) te word. En tog, in die ewige raadsplan van die ewige God is daar geen waarborg van gemak en roem vir die toegewydes nie. Ons mag miskien seën en voorspoed in hierdie lewe beleef, maar miskien moet ons wag vir “iets beters” (Hebreërs 11:40) – die vervulling van God se beloftes in die ewigheid. Tot dan, laat ons maar deur die geloof lewe.