In 1776 het die 13 Britse kolonies in Noord-Amerika geprotesteer teen die beperkinge wat deur die koning van Engeland op hulle geplaas is en die stryd wat ontwikkel het, het daartoe gelei dat ’n nuwe republiek gestig is. Daardie jong nasie het die bekende Verklaring van Onafhanklikheid (Declaration of Independence) opgestel en aangeneem. Ongeveer 2,000 jaar gelede het Jesus aan die kruis uitgeroep: “Dit is volbring!” en sodoende het Hy die gelowige se verklaring van onafhanklikheid geproklameer. Die hele mensdom was vasgevang in die greep van sonde. Maar Christus, die sondelose Een, het ons plek aan die kruis ingeneem en vir ons gesterf. Deurdat Hy aan God se eise voldoen het, het Hy ons wat op Hom vertrou, vir ewig vrygemaak. Paulus skryf: “Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ’n vervloekte te word” (Galasiërs 3:13). Romeine 8 sê: “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood” (vs. 1-2). Galasiërs 5 vers 1 moedig ons aan om vas te staan en ons nie weer onder die slawejuk te laat indwing nie. Ons is dankbaar teenoor God vir die vryheid wat ons as volk geniet, maar bo alles is alle gelowiges dankbaar vir die vryheid wat ons in Christus verkry het.