Hans Geiger, Marie Curie, Rudolf Diesel, Samuel Morse en Louis Braille het almal iets in gemeen. Hulle het almal iets ontwerp of ontdek wat nou hulle naam dra. Hulle name, tesaam met baie ander mense s’n, verskyn nou in Encyclopedia Britannica’s Greatest Inventions, ’n lys van “325 ontdekkings wat ’n besondere invloed op die menslike lewe gehad het.” Ons wat volgelinge van Jesus is, dra sy naam. In Lukas se verslag van die eerste kerk sê hy: “In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem” (Handelinge 11:26). Later het Petrus gelowiges aangemoedig om hulle nie vir die evangelie te skaam of bang te wees om as “Christen” te ly nie (1 Petrus 4:16). Die naam Christen, wat aanvanklik as ’n belediging aan die eerste gelowiges toegedig is, het spoedig ’n erenaam geword, die teken dat hulle aan Hom behoort. E. M. Blaiklock, voorheen verbonde aan die universiteit van Auckland, skryf dat die term Christen in die eerste eeu baie gepas was, want “ dit het impliseer dat diegene wat die naam dra lojaliteit aan ’n persoon betoon en daardie persoon is die Messias (Christus) … die moderne gebruik van daardie naam impliseer dieselfde waarheid … die Christen is iemand wat die heerskappy van Christus aanvaar as ook al die implikasies daaraan verbonde.” As volgelinge van Christus, laat ons die Naam van ons Verlosser en Vriend met blydskap dra.