As kind het ek graag die slakke in die blomtuin dopgehou. Die klein diertjie met die skulp, ’n slymerige magie en ogies wat soos teleskope heen en weer beweeg, het my regtig gefassineer. Maar wat regtig vreemd was, was die feit dat slakke so stadig beweeg. Hoe stadig beweeg ’n slak in werklikheid? Een navorser het vasgestel dat ’n slak teen 0.00758 myl per uur beweeg – of veertig voet in een uur. G’n wonder dat ons die uitdrukking beweeg teen ’n slakkepas gebruik wanneer ons wil aandui dat iets regtig stadig vorder. Maar alhoewel ’n slak regtig stadig beweeg, het dit tog een positiewe kenmerk. ’n Slak het uithouvermoë en volharding. Die bekende 19de eeuse prediker, Charles Spurgeon, het eenmaal glimlaggend opgemerk: “Deur volharding het die slak ook eindelik die ark bereik.” Volgens Paulus is volharding ’n baie belangrike komponent in die ontwikkeling van karakter. Hy skryf: “Volharding kweek egtheid van geloof” (Romeine 5:4). En op daardie fondament volg hoop en karakter (vs. 5). Die oorspronklike Griekse woord wat met “volharding” vertaal is, beteken “standvastigheid, bestendigheid en uithouvermoë.” Dit is gebruik vir gelowiges wat hulle weg met volharding geloop het, ten spyte van baie vervolging en beproewing. Het terugslae jou na ’n slakkepas gedwing? Skep moed. God vra nie vir ’n vinnige einde nie. Hy verwag volhardende vooruitgang.