Terwyl ek tydens middagete onder die skadu van ’n boom in my motor gesit het, het ek my oor ’n paar sake bekommer. Toe het ’n rooi wipstertjie met ’n vet wurm in sy bekkie skielik naby my deur gaan sit en opgekyk na my. Die voëltjie het my herinner aan Jesus se woorde in Matteus 6:25-26: “Moet julle nie bekommer oor julle lewe … Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie; … julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?” Jare gelede het Paul Borden in die tydskrif Focal Point sekere aanbevelings aan die hand gedoen, vir persone wat geneig is om hulle oor alles te bekommer: Begin ’n lys van jou bekommernisse. Skryf alles neer waaroor jy jou bekommer. Die rekeninge, jou werk, jou kinders en kleinkinders, jou gesondheid en die toekoms. Verander jou lys van bekommernisse in ’n gebedslys: Vra die Here om al daardie sake vir jou te hanteer. Bid spesifiek vir elke behoefte en vertrou volkome op Hom, want Hy is getrou. Verander jou gebedslys in ’n lys van dade. As daar enigiets is wat jy kan doen ten opsigte van enige van jou bekommernisse, doen dit. As jy jou bekommernisse in gebed en aksie oorsit, gebeur daar iets. Borden sê: “Verlammende bekommernis kan verander word deur ’n besef van die verantwoordelikhede van die lewe .” Wil jy nie sommer dadelik met so ’n lys begin nie?