Die Internasionale Slawerny Museum in Liverpool, Engeland, herinner ons aan die verskriklike dinge wat deur die eeue aan slawe, manne, vroue en kinders, gedoen is. Die prys wat onskuldige mense vir die inhaligheid van ander betaal, is verskriklik, maar dis nie net die slawe wat skade ly nie – ook diegene wat dit toepas betaal ’n dure prys. ’n Opmerking wat Frederick Douglass, ’n voormalige slaaf en later kampvegter vir menseregte gemaak het, lui soos volg: “Geen mens kan ’n ketting om die enkel van ’n ander mens plaas, sonder om die ander ent van die ketting om sy eie nek vas te maak nie.” In die proses om ander hulle menslikheid te ontneem, word jy self gedehumaniseer. Paulus het dit anders verwoord: “Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes” (Gal. 6:7). Paulus se woorde herinner ons daaraan dat ons keuses gevolge het – en dit sluit in die manier waarop ons ander behandel. Wanneer ons verkies om te haat, kan daardie haat na ons toe terugkeer op maniere waarop ons nie bedag is nie. Ons kan ontdek dat ons van ander mense vervreemd is, kwaad is vir onsself en gevolglik nie die Here effektief kan dien nie. Laat ons liewer die ander keuse uitoefen. “Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel … laat ons dus aan almal goed doen” (vs. 9,10).