Hoe ver is dit vanaf Nasaret na Betlehem? Indien jy in Pennsilvanië woon, seker net so tien minute se ry met ’n motor. Maar as jy in Nasaret in Galilea is, en jy reis met jou swanger vrou, is dit meer as 150 kilometer. Dis die afstand wat Josef en Maria moes aflê. Die reis het hulle waarskynlik ’n week geneem en hulle kon ook nie in ’n gerieflike hotel tuisgaan toe hulle in Betlehem aangekom het nie. Al wat Josef kon vind, was ’n stal en dis waar Maria “haar Eerstelingseun in die wêreld gebring” (Luk. 2:7) het. Maar die baba, Jesus, se reis was baie verder as 150 kilometer. Hy het sy plek in die hemel, aan die regterhand van God, verlaat, na hierdie wêreld gekom en ’n menslike gestalte ter wille van ons aangeneem. Uiteindelik het Hy aan ’n kruis gesterf, en is Hy in ’n geleende graf begrawe. Tog was sy reis nog nie oor nie. Hy het die dood oorwin, uit die graf opgestaan, tussen mense beweeg en eindelik opgevaar na die hemel. En selfs dit is nog nie die einde nie, want Hy kom weer, maar dan as Koning van die konings en Here van die here. As jy miskien hierdie Kersfees ’n reis onderneem, dink dan aan die reis wat Jesus ter wille van ons afgelê het. Hy het vanaf die hemel gekom om vir ons aan die kruis te sterwe en uit die dood op te staan, sodat ons redding kan verkry. Loof en prys Hom vir daardie eerste Kersreis!