Een aand toe ons, as familie, vanaf ’n Kersfunksie huis toe gery het, het ons by ’n klein plattelandse kerkie, wat tussen twee glinsterende sneeubanke genestel het, verbygery. Van ver af al kon ons die Kersversieringe sien. Wit ligte wat in die donker geskyn het, het die woord hoop in hoofletters uitgebeeld. Die aanskoue van daardie woord wat in die donker geskyn het, het my daaraan herinner dat Jesus die hoop van die mensdom is en altyd sal wees. Voordat Jesus gebore is, het die mensdom vir die Messias gewag –die Een wat hulle sondes op Hom sou neem en by God sou intree ter wille van hulle (Jes. 53:12). Hulle het verwag dat die Messias in Betlehem uit ’n maagd gebore sou word en dat sy naam “Immanuel” sou wees en dit beteken “God met ons” (Jes. 7:14). Die nag toe Jesus gebore is, is hulle hoop vervul (Lukas 2:1-14). Alhoewel ons nie langer wag dat Jesus as ’n babatjie gebore moet word nie, is Hy steeds die bron van ons hoop. Ons is op die uitkyk vir sy wederkoms (Matt. 24:30), en ons droom oor die hemelse woning wat Hy besig is om vir ons voor te berei (Joh. 14:2). Diep in ons harte droom ons dat ons saam met Hom in die hemelse stad sal woon (1 Tess. 4:16). As Christene kan ons vooruitkyk na die toekoms, want die babatjie in die krip was en is steeds “Christus Jesus, ons hoop” (1 Tim. 1:1).