Onlangs het ek en my man weer in aanraking gekom met ’n jong man wat ons jare gelede as kind geken het. Ons het saam teruggedink aan ’n pragtige Kersprogram waartydens Matthew die lied “All is Well” deur Wayne Kirkpatrick en Michael W. Smith in ’n suiwer soprano stem gesing het. Dit was ’n kosbare herinnering aan ’n lied wat waarlik harte geraak het. Alles is wel, alles is wel Verhef jou stem en sing! Immanuel, ons Verlosser is gebore, Ons sondaars is nie meer verlore. Sing Halleluja, sing Halleluja, alles is wel. Om daardie pragtige woorde tydens Kerstyd te hoor, is vir baie mense tot groot seën. Tog is daar diegene wat nie hierdie boodskap kan inneem nie, omdat hulle lewens so in ’n warboel is. Hulle het ’n geliefde aan die dood afgestaan, is werkloos, of baie siek en mag selfs aan depressie ly en daarom roep hulle harte as ’t ware uit: “Alles is nie wel nie – nie vir my nie.” Maar vir diegene van ons wat bevoorreg is om die geboorte van ons Verlosser te gedenk – ja ten spyte van die donker nag waarin ons mag verkeer, is dit tog alles wel. Ons is nie alleen in ons pyn en hartseer nie. God is by ons en het belowe ons nooit te verlaat nie (Hebr. 13:5). Hy belowe dat sy genade genoeg is (2 Kor. 12:9) om in al ons behoeftes te voorsien (Filip. 4:19) en ook die ongelooflike gawe van die ewige lewe (Joh. 10:27,28). Wanneer ons oor al die Here se wonderlike beloftes nadink, dan moet ons met die digter John Greenleaf Whittier saamstem. Hy het geskryf: “Voor my en ook agter my, is God, en daarom is alles wel.”