Aha, die lewe van ’n vark! Elke nuwe dag bring ’n gespartel in die modder en ’n gelukkige gesnork wanneer etenstyd aanbreek – en wat ’n heerlike spyskaart! Skille, peule en doppe – enige oorblyfsel wat in die hok ingegooi word. Klink dit vir jou goed? Nee? Wel dit het beslis ook nie vir die verlore seun goed geklink nie. Voordat hy begin het om saam met die varke te eet, het hy ’n warm bed gehad, die vooruitsig om ’n groot erfporsie te kry en heel waarskynlik goeie kos. Maar dit was nie genoeg nie. Hy was op soek na “plesier en genot.” Hy wou sy eie lewe beheer en homself geniet. Ongelukkig het dit in ’n varkhok en met peule geëindig. Elke keer as ’n jongmens sy of haar Christenouers se raad ignoreer, die bevele in God se Woord minag en sy of haar eie koers kies, gebeur dieselfde ding. Dis altyd ’n skok wanneer ’n mens hoor dat iemand wat veronderstel is om ’n Christen te wees, ’n lewe kies wat God se standaarde ignoreer. Ongeag wat die keuses mag wees, seksuele sondes, dwelms, ’n gebrek aan ambisie of enigiets anders wat die Here uitsluit – dit sal onvermydelik sleg eindig. As ons duidelike Bybelse riglyne ignoreer en ons verhouding met God verwaarloos, kan ons probleme te wagte wees. Lukas vertel ons dat die verlore seun eindelik tot ander insigte gekom het (Lukas 15:17). Wees versigtig, lewe vir God en gehoorsaam sy Woord – tensy jy lus is vir varkkos en peule.