Toe ek onlangs ’n vlug onderneem het, het een van die vlugpersoneel my gevra of ek dikwels vlugte onderneem. Toe ek bevestigend geantwoord het, het hy gevra of ek ook agtergekom het dat passasiers die afgelope maande meer strydlustig en aggressief geword het. Ek het saamgestem en ons het begin bespiegel oor wat die moontlike oorsake kan wees – miskien die strenger sekuriteit by lughawens, hoër kostes, minder dienste op vlugte en ’n algemene ontevredenheid ten opsigte van lugvaart. En asof dit ons siening wou bevestig, het ’n passasier kom kla dat hy ’n ander sitplek wou hê. Hy was nie tevrede met sy sitplek nie. Wanneer ons, as Christene, met sodanige strydlustigheid gekonfronteer word, kan ons vredemakers wees. Paulus het die volgende uitdaging aan die kerk in Rome gerig: “As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense” (Rom. 12:18). Wat presies beteken dit? In die eerste plek dat ons beheer moet uitoefen oor dit waaroor ons beheer kan uitoefen. Ons kan nie ander mense se optrede kontroleer nie, maar ons kan wel ons eie reaksie en optrede beheer. Wanneer ons vyandige en aggressiewe gesindhede rondom ons raaksien, kan ons die hart van die Prins van Vrede openbaar deur vredemakers te wees. So sal ons die gesindheid van ons Verlosser openbaar, in ’n samelewing wat al meer aggressief en strydlustig word.