Terwyl jy nog ’n student is, is geld gewoonlik maar skaars. Gevolglik is studente maar te bly as daar ’n geleentheid is om gratis kos te bekom. Indien ’n maatskappy nuwe werkers soek, nooi hulle soms studente uit na ’n byeenkoms waar gratis pizzas aangebied word. Daar is studente wat hierdie byeenkomste net ter wille van die pizza bywoon en glad nie belangstel om ’n betrekking te kry nie. Die kos is in daardie stadium belangriker as om ’n werk te kry. Jesus het by geleentheid ’n skare van 5,000 gevoed met die gevolg dat baie mense Hom die volgende dag gesoek het (Joh. 6:10-11; 24-25). Hy rig toe ’n uitdaging aan hulle: “Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het” (Joh. 6:26). Dit wil voorkom asof kos vir baie van daardie mense belangriker was as die ewige lewe wat Jesus aangebied het. Hy het gesê dat Hy die brood is “wat God gee” en dat dit Hy is wat “uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee” (vs.33). Sommiges het Hom nie geglo nie en “nie meer saam met Hom gegaan nie” (vs. 66). Hulle wou kos gehad het, maar nie vir Hom nie, Hy wat hulle genooi het om Hom te volg. Jesus roep ons vandag om na Hom te kom, nie ter wille van seëninge uit sy hand nie, maar om die ewige lewe te ontvang en Hom “die Brood van die lewe” te volg. –