Daar is ’n bekende slagspreuk wat sê: “Die lewe word nie gemeet aan die aantal asemteue wat ons neem nie, maar aan die oomblikke wat ons ons asem ontneem.” Ek sien nogal dikwels hierdie woorde op T-hemde en kunswerke. Dis ’n frase wat inslag vind, maar ek dink dis nogal misleidend. Indien ons die lewe meet aan die asemrowende oomblikke, dan sal ons die wonder van die alledaagse gebeure miskyk. Om te eet, slaap en asem te haal is vir ons “doodgewone” gebeure omdat ons dit elke dag doen, maar dis beslis nie doodgewoon nie. Elke asemteug en elke hap wat ons gee, is wonderwerke. Om die waarheid te sê, om te kan asemhaal is wonderliker as enigiets anders wat ons ons asem kan ontneem. Koning Salomo het waarskynlik meer asemrowende oomblikke beleef as enigiemand anders. Hy het self gesê: “Alles wat ek begeer het, het ek my veroorloof; ek het my geen plesier ontsê nie” (Pred. 2:10). Maar tog het hy te kenne gegee dat al hierdie dinge nutteloos is. “Alles kom tot niks, Dis is ’n gejaag na wind” (vs. 17). Salomo se lewe herinner ons daaraan dat dit belangrik is om ons vreugde in die eenvoudige en doodgewone dinge te vind. Groter is nie altyd beter nie. Meer is nie altyd ’n verbetering nie. Om besig te wees, maak ons nie noodwendig belangrik nie. Moenie op asemrowende oomblikke staatmaak nie. Waardeer liewer elke asemteug wat jy neem, want elke asemteug is belangrik.