Op sommige van die Kerskaarte wat jy hierdie Kersfees sal ontvang, sal jy waarskynlik ’n man sien wat in die agtergrond staan en oor Maria se skouer kyk na die Kindjie wat sy versorg. Sy naam is Josef. Na die verhaal van Jesus se geboorte, hoor ons nie veel meer van hom nie. As ons nie beter geweet het nie, sou ons gedink het hy is maar net ’n bystander, iemand wat maar net Jesus se afstamming en sy aanspraak op die troon van Dawid moes bevestig. Maar in werklikheid speel Josef ’n baie belangrike rol. As hy die engel se opdrag om Maria as sy vrou te neem, verontagsaam het, kon hy, vanuit ’n menslike oogpunt, Jesus se hele sending in gevaar gestel het (Matt. 1:20). Om Maria as sy vrou te neem, was vir hom riskant. Die publieke opinie dat hy Jesus se vader was, het hom skuldig gemaak aan ’n ernstige oortreding van die Joodse wet en het hom in die openbaar tot skande gemaak. Maar vandag is ons almal dankbaar dat hy bereid was om sy reputasie op die spel te plaas en in te skakel by God se plan. Die meeste van ons is baie onbelangrike rolspelers in hierdie wêreld, maar almal van ons word opgeroep om gehoorsaam te wees. Al verstaan ons nie, moet ons oorgee en onsself aan God se wil onderwerp. Ja, ons moet gewillig wees om dit te doen, selfs al sou dit vir ons ’n risiko inhou!