Ek het al gehoor dat daar in die meeste kulture drie wense verhale is, en almal stem min of meer ooreen. ’n Weldoener verskyn aan ’n persoon en bied aan hom of haar drie wense wat dan vervul sal word. Die feit dat hierdie tema so baie in verhale verskyn, dui daarop dat ons almal so graag iets wil hê wat ons nie op eie inisiatief kan kry nie. Daar is selfs in die Bybel so ’n wensverhaal. Dit het een nag gebeur toe die Here in ’n droom aan koning Salomo verskyn het en aan hom gesê het: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou gee?” (1 Konings 3:5). Salomo kon enigiets gevra het – rykdom, eer, roem of mag. Maar hy het nie vir een van hierdie dinge gevra nie. Hy het “gehoorsaamheid aan U” gevra en insig in wat reg is. Die jong en onervare koning, bewus van sy eie onvermoë om oor die groot volk te regeer, het die Here se wysheid nodig gehad, sodat hy goed kon regeer. Is ek so wys soos Salomo? Indien die Here vandag direk met my sou praat en vra wat Hy vir my kan doen, waarvoor sou ek vra? Sou ek vir gesondheid, rykdom, jeug, mag en roem vra? Of sou ek vra vir wysheid, heiligheid en liefde? Sou ek wys wees of dwaas? En sê nou maar die Here sou vandag so ’n vraag aan jou stel? Wat sou jy van Hom vra?