Ek dink ons voel almal af en toe soos Dawid in Psalm 86:1 gevoel het. Hy sê: “Ek is hulpeloos en arm.” Maar selfs die rykste onder ons moet verstaan dat armoede en behoefte meer op die geestelike van toepassing is, as op die beursie. Wanneer die biljoenêr, Rich De Vos, met groepe praat, sal hy dikwels sê: “Ek is maar net ’n sondaar uit genade gered.” Psalm 86 vertel ons dat God se hulp aan ons nie in finansies gemeet word nie. Wanneer ons bely dat ons arm en hulpeloos is, is dit nie met die bedoeling dat God ons met aardse skatte moet seën nie. Nee, inteendeel, ons doen dit sodat ons die deur oopmaak om baie ander kosbaarder skatte te ontvang. Hierdie is die dinge wat God vir die arme en hulpelose doen. Hy “beskerm my … [en] red my” (vs. 2), omdat ek op Hom vertrou. Hy is “genadig” en “vergewe altyd weer” (vs. 3,5). “Hy luister na my gebed … en sal my gebed verhoor” (vs. 6,7). Ons moet egter nie God se seëninge aanneem sonder om iets uit dankbaarheid terug te doen nie. Ons het ’n verantwoordelikheid om in God se weë te wandel, sy “Naam altyd [te] eer” want Hy hoor ons gebede (vs. 11,12). Voel dit vir jou asof jy een van die armes is? Indien wel, sluit by ons aan. Laat ons nooit vergeet van al die geestelike seën wat God so mildelik oor ons uitstort nie.