Michael Flynn, kunstenaar en wetenskaplike, het ’n singende bak ontwerp wat hy by die ArtPrize internasionale kunskompetise in Grand Rapids, Michigan wou tentoonstel. Die bak vereis geen elektrisiteit om te funksioneer nie, maar wel iets wat nie altyd beskikbaar is nie: samewerking. Ek het toegekyk hoe mense probeer het om die bak te laat sing, en ek was verbaas dat niemand die moeite gedoen het om die aanwysings te lees nie, naamlik dat die bak liggies geskud moes word. In plaas daarvan en ongeduldig omdat dit nie wou sing nie, het hulle volgehou om hulle eie planne te beraam. Na ’n paar minute het hulle gefrustreed en teleurgesteld weggestap en aangeneem dat die bak defektief is. Ek wonder hoe dikwels ons ook gefrustreerd voel omdat die lewe nie so uitwerk as wat ons gedink het nie? Ons probeer allerhande metodes wat vir ons reg lyk, in plaas van om God se Woord te gehoorsaam. Die singende bak herinner ons daaraan dat ons nie kan verwag dat die lewe goed moet verloop as ons nie die instruksies van die Ontwerper (Deut. 4:40) navolg nie. Gebrek aan gehoorsaamheid skei ons van mekaar en van God. Om sy plan uit te voer en vreedsaam saam te lewe en sy boodskap bekend te maak (Ps. 67:3) moet ons sy opdragte uitvoer en vreedsaam saamwerk. As dit nie goed gaan nie, het ons waarskynlik van God se plan afgewyk