Op ’n buitelandse reis het ek ’n advokaat ontmoet wat ook van my tuisstad in New Jersey afkomstig is. Ons het gesels en was verbaas hoeveel ons in gemeen het. In die loop van die gesprek, het hy gevra: “Het jy gesê jou van is Stillwell?” “Nee,” het ek gesê. “Dis Stowell.” Hy het toe vertel dat hy ’n klient met die van Stillwell het. “Is dit Art Stillwell?” het ek gevra en tot my verbasing het hy “ja” gesê. Art Stillwell was ’n lidmaat van ons gemeente en ’n baie invloedryke besigheidsman in ons omgewing. Die advokaat het opgemerk dat hy geen ander kliënt soos Stillwell het nie. Hy verduidelik toe dat meeste van sy kliënte verwag dat hy alles in sy vermoë moet doen om hulle uit die moeilikheid te kry. Art was glo anders. Elke keer as hy Art gevra het wat hy moet doen, het hy geantwoord: “Doen wat die regte ding is om te doen.” Hierdie houding het beslis ’n indruk op die advokaat gemaak. Om onsself aan Christus te onderwerp wat al ons begeertes en besluite aanbetref, ongeag wat die gevolge mag wees, is dit wat die Christen van die wêreldling onderskei. As ons opreg lewe, onberispelike kinders van God wat ligdraers is “deur die woord van die lewe uit te dra”, (Filip. 2:16) skyn ons regtig vir die Here. Dan is ons ligte vir Jesus. As jy dus ’n lig wil wees wat die wêreld verlig, doen dan wat reg is.