Ek het ’n poskaart van my TV maatskappy ontvang. Hulle nooi my uit om al die nuutste verbeterings op die TV kanale na te gaan. Die kaart het aangedui dat ek die maatskappy moes kontak indien ek die nuwe digitale toerusting wou kry en iemand om dit vir my te installeer en te verduidelik hoe dit werk. Daarna kon ek, soos die kaart gesê het, terugsit en die Wyer Wêreld geniet. Die kaart het my laat dink aan die “Wyer Wêreld” waarin kinders van die Here bevoorreg is om te lewe. Wanneer die Here mense oorbring vanuit die duisternis na “sy wonderbare lig” (1 Petrus 2:9), word ’n hele nuwe lewe vir ons oopgemaak. Romeine 5 vertel ons iets van die meer wat ons in Christus Jesus het. Ons is “met God versoen” (vs. 10) en daarom is daar nou “vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus” (1). Ons het toegang tot God en sy wonderlike genade (vs.2). Ons kan ons ook nou verheug in die swaarkry, “want ons weet swaarkry kweek volharding en volharding kweek egtheid van geloof” (vs. 3,4). En bo en behalwe dit, stort die Heilige Gees wat in ons is, God se liefde in ons harte uit (vs. 5). En nou het sonde nie meer ’n houvas op ons nie (Rom. 6:18). As Christene het ons in der waarheid toegang tot ’n wyer wêreld. Sou dit nie baie selfsugtig van ons wees as ons nie ook ander daarheen uitnooi nie?