Die belangrikste rede waarom ons dankie sê, is om die gewer van die gawe te laat weet hoeveel ons dit waardeer. Die skrywer G. B. Stern het eenmaal gesê: “Stille dankbaarheid is niks werd nie en beteken niks nie.” Toe ons seun nog jonk was, was dit soms nodig om hom daaraan te herinner dat dit nie help om ’n paar woorde te mompel en op die grond voor hom te kyk nie. Dis nie ’n aanvaarbare manier om dankie te sê nie. Na baie jare van getroude lewe is dit nog vir my en my man nodig om te besef dat dit belangrik is om dankbaarheid teenoor mekaar te betoon. Wanneer een van ons dankbaar voel, probeer ons altyd om dit in woorde te omskep – al het ons al baie keer tevore vir soortgelyke dinge dankie gesê. “Om dankbaar te voel, maar dit nie in woorde uit te druk nie, is soos om ’n present toe te draai maar dit nie te oorhandig nie.” Om dankbaarheid te betoon is natuurlik baie belangrik in menslike verhoudinge, maar dit is nog meer noodsaaklik in ons verhouding met die Here. As ons dink aan die baie seëninge wat ons elke dag van God ontvang, bedank ons Hom gereeld? En as ons dink aan die ongelooflike gawe van sy dood en opstanding sodat ons sondes vergewe kan word, is daar borrelende dankbaarheid in ons harte? (Rom. 6:23; 2 Kor. 9:15). Neem die opdrag in Psalm 107:1 elke dag te harte: “Loof [dank] die Here, want Hy is goed!”