Ek het onlangs na ’n dokumentêre program oor die maak van ’n Steinway klavier gekyk. Dit het gewys met watter sorg hierdie besondere instrument gemaak word. Vandat die bome afgesaag word, totdat die klavier in die musiekwinkel verskyn, gaan dit deur tallose verstellings deur die hande van vaardige vakmanne. Wanneer die jarelange proses eindelik voltooi is, word die instrument deur bedrewe pianiste bespeel en hulle merk gewoonlik op dat die ryk klanke nie op enige ander manier verkry kan word nie. Die geheim van die Steinway klavier is die vakman se besondere aanraking. Toe die tabernakel gebou is, sien ons dat God ook die vakman se besondere aanraking waardeer het. Hy het die vakman Besaleël uitgekies en van hom gesê: “Ek het hom toegerus met my Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk kan doen: ontwerpe maak en dit in goud, silwer en brons uitwerk” (Eksodus 31:3-5). Vandag woon die Here in die harte van gelowiges. En die belangrikheid van vakmanskap is steeds daar. Nou is elke gelowige “deur God geskep” en dus God se “vakmanskap” (Efesiërs 2:10). Die Meester Vakman is die Heilige Gees en Hy vorm ons en skaaf ons totdat elkeen van ons soos Jesus word (Rom. 8:28,29). En as ons onsself aan Hom onderwerp, sal die finale produk die Vakman se afwerking toon.